TEXAS, VSA. – Polisielede van Texas in die Verenigde State van Amerika is Saterdag na ’n toneel voor ’n restaurant in Fort Worth ontbied.
Hulle het Nester Lujuan Flores (31) glo onder die invloed van alkohol agter die stuurwiel van sy grys Kia Forte aangetref. ’n Bekommerde verbyganger het die polisie gekontak omdat Flores oor die stuurwiel gehang het. Daar was ook ernstige skade aan die enjinkap en voorruit van die motor.
Met die polisie se aankoms, het hulle nog ’n man in die passasiersitplek gevind wat later deur nooddienspersoneel dood verklaar is.
Flores het vir die polisiebeamptes gesê hy het vermoedelik ’n bok in Dallas getref. Hy het egter nagelaat om die insident te rapporteer.
Ondersoekers meen Flores het waarskynlik ’n voetganger met sy voertuig tussen Arlington en White Settlement getref. Die impak was na bewering so groot dat die voetganger deur die voorruit tot in die passasiersitplek geslinger is. Daar is erge trauma aan die liggaam en van die ledemate word vermis.
Die Texas-polisie het motoriste gemaan om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie.
Bronne: CNN, NBC, USA Today





