KWAZULU-NATAL. – ‘n Pa is Maandagmiddag voor sy minderjarige seun op die Ou Noordkus-pad by die ingang van Broadlands geskiet.
Reaction Unit South Africa sê verskeie oproepe is ná die voorval gemaak en reaksiebeamptes is omstreeks 15:46 na die toneel. Die slagoffer en sy seun het in ‘n goudkleurige BMW M4 in verkeer stilgestaan toe ‘n onbekende verdagte na bewering uit ‘n wit voertuig geklim en verskeie skote na die slagoffer geskiet het. Hy het daarna in die voertuig waarvan die maak, model en registrasienommer onbekend is van die toneel gevlug.
Die seun, wat in die passasiersitplek was, het geen beserings opgedoen nie, maar volgens Rusa is die pa eers op die toneel gestabiliseer voordat hy met ‘n Netcare 911-helikopter na ‘n hospitaal gevlieg is.
Die motief vir die aanval is onbekend.
Nuusflits het vir polisiekommentaar gevra.
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





