GAUTENG. – ‘n Onderwyser (34), voorheen verbonde aan die St. Mary’s Diocesan School for Girls, wat vir verskeie seksuele misdade aangekla is, het borg van R10 000 in die Pretoria-landdroshof gekry.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê die onderwyser, wat tussen 2017 en 2018 by die skool aangestel was, word deur klagtes van verkragting, seksuele aanranding en seksuele voorbereiding in die gesig gestaar.
Na bewering was die slagoffer in gr. 5, sowat 10 of 11 jaar oud, toe die onderwyser glo die dade met haar tydens swemlesse en ekstra klasse gepleeg het.
Mahanjana sê die kind het eers in 2019, tydens ‘n les oor seksuele misdade, besef wat met haar gebeur het was verkeerd. Haar ma het veranderinge in haar optrede gesien en haar gekonfronteer, waarna sy haar ma vertel het wat met haar gebeur het. Die kind is na ‘n maatskaplike werker geneem, waarna die saak in Kaapstad oopgemaak en na Brooklyn-polisiestasie in Pretoria oorgeplaas is.
Die onderwyser het homself aan die polisie oorgegee en het formeel deur sy prokureur vir borg aansoek gedoen. Sy verweer aan die hof was dat hy sy samewerking gee en hy het ook sy paspoort ingehandig. Die staat het sy aansoek om borg teengestaan op gronde van ‘n lang vonnis wat moontlik voorlê en omdat hy ‘n moontlike vlugrisiko is met geen bates in Suid-Afrika nie en ook werkloos is.
Die hof het egter borg toegestaan. Hy moet drie keer per week by sy naaste polisiestasie rapporteer. Hy mag ook nie direk of indirek met die staatsgetuienis inmeng nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 Maart uitgestel.
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





