NOORD-KAAP. – Die polisie het gister sorgpakkies, mediese toerusting en leesmateriaal aan die onkologie-departement by Robert Manaliso Sobukwe-hosptaal in Kimberley oorhandig.
Lt.kol. Sergio Kock sê die donasies is opbrengste van die polisie se 10km Pink and Blue Walk in Aid of Cancer Awareness wat op 8 November 2023 plaasgevind het. Die dag was saam met die polisie se Women’s Network, Men For Change, die departement van gesondheid, die gemeenskapspolisiëringsforum, die departement van vervoerveiligheid en skakeling, die departement van korrektiewe dienste, die SANW, polisie provinsiale bestuur, polisie se provinsiale komponente en polisiestasies in die Kimberley-area gehou.
Genl.maj. Thabo Mphuthi het dankbaarheid teenoor al die rolspelers van die dag uitgespreek en lt.genl. Koliswa Otola het die hospitaal vir hulle goeie diens vir die gemeenskap geprys.
Dr. Esmé Olivier, die waarnemende HUB van die hospitaal (RMSH) het die polisie en ander rolspelers vir hulle vrygewigheid bedank, terwyl dr. Daniel Osei Fofie, hoof van die onkologie-departement, ook sy dankbaarheid vir diegene wat tot die donasies bygedra het uitgespreek.
Women’s Network het eetgoed aan die personeel en pasiënte uitgedeel.





