Gewese man wat skuldig pleit op moord, gevonnis

Lees ook :

Foto: Delana Carmen Rawlins Facebook-blad

KWAZULU-NATAL. – Ian Rawlins (48) is gister tot 22 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op die moord op 13 Mei 2023 in Ashburton op Delana Carmen Rawlins, sy gewese vrou. Sy is 12 keer geskiet.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê die paar, wat ten tye van die moord reeds ‘n maand geskei was, het die dag van die moord ‘n partytjie saam bygewoon. Volgens Ian Rawlins was daar ‘n moontlikheid van versoening met hulle verhouding.

Volgens hom moes hy op die partytjie hoor sy gewese vrou is in ‘n verhouding met ‘n ander man. Hy het haar gekonfronteer en met die argument wat ontstaan het, is hulle gevra om die partytjie te verlaat. Rawlins het agter sy gewese vrou aangery. Hulle het gestop en die argument het weer begin. Hy het onthou sy het sy huissleutels. Sy het egter geweier om die sleutels vir hom te gee, waarop hy sy humeur verloor het. Rawlins het sy vuurwapen uitgehaal om haar te dreig, maar dit deur die oop ruit gedruk en begin skiet totdat die magasyn leeg was.

Hierna het Rawlins van die toneel weggery en by die munisipale stortingsterrein in Pietermaritzburg gesit en dink wat hom te doen staan. Hy het sy prokureur gebel, waarna hy hom by die Alexandra-polisiestasie oorgegee het.

Rawlins het ontken sy aksies was met voorbedagte rade of beplan en het gesê die moord is gepleeg in die hitte van die oomblik toe hy sy humeur verloor het. Tydens hulle stormagtige verhouding het die oorledene vier beskermingsbevele teen Rawlins uitgeneem. Hy het fisiese mishandeling erken en vir die hof gesê hy het berou oor sy aksies.

Adv. Deelan Naidoo het ter verswaring slagofferimpakverklarings deur die oorledene se dogter en ma ingedien. Haar ma het gesê sy kan nie slaap nie en lewe in vrees terwyl een van die oorledene se drie dogters gesê het sy voel sleg wanneer vriende van hulle ouers praat. Die dogters moes gereelde mishandeling aanskou.

Rawlins is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief