Was jy al ooit in ‘n posisie waar jy vermoed iemand is dalk ontsteld of ongelukkig met jou? Ek was al baie, want ek praat baie. En hoe meer woorde ek uiter, hoe beter is die kans dat ek onwetend aanstoot aan iemand kan gee. Nou verbeel jou jy gesels met ‘n persoon en hy of sy glimlag gedurende die gesprek. Onmiddellik rol daai bekommernis soos water van jou skouers af, en jy weet julle is oukei met mekaar.
LEES MEER: Hoe sien jy jouself?
Is dit nie ongelooflik watse krag ‘n glimlag kan dra nie? Hoeveel dit kan sê sonder om ‘n woord te uiter.
Daar word mos gesê dat die oë die vensters van die siel is. En alhoewel ek heelhartig hiermee saamstem, wil ek byvoeg dat die mond die venster van die hart is. Die meeste emosies word onwillekeurig daardeur verklap. Dis moeilik om ‘n glimlag weg te steek as jy iets hoor waarmee jy tevrede is, of dalk ‘n stukkie humor ervaar wat jou prikkel.
Dit stop ook nie net by die trek van jou mond nie, maar ook by dit wat daar uitkom. As jy in jou hart ongelukkig met iets is, dan brand jy om dit met iemand te deel. Jy wil die las verlig deur dit in woorde om te sit. Of as jy goeie nuus ontvang het, kan jy nie wag om dit met ‘n vriend of geliefde te deel nie. Dit moet iewers uit!
Jou gesig is die deel van jou liggaam waarna mense kyk as julle praat, en daar is geen beter versiering daarvoor as ‘n vriendelike glimlag nie. Dus raai ek jou aan, dra daai versiering met trots en gebruik dit so dikwels as moontlik. Jy mag dalk net iemand se dag ophelder sonder dat jy dit eens besef.





