NIEU-SEELAND.- ’n Man en sy vrou is dood nadat hulle vermoedelik deur ’n aggressiewe skaapram op hulle plaas in die landelike area van Waitakere, wes van Auckland, aangeval is.
Hulle seun het Donderdag op hulle liggame afgekom nadat hy vir ’n paar dae nie van hulle gehoor het nie.
Volgens die owerhede is Alfred Helge Hansen (82) aangeval toe hy vir die ram gaan kos gee het. Sy vrou, Gaye Carole Hansen (81), is ook aangeval toe sy na haar man gaan soek het.
Hulle seun het die ram in ’n kopgreep gehad in ’n poging om hom te beheer, maar is ook aangeval.
Na deeglike assessering van die situasie het die polisie die ram geskiet. Die omstandighede wat tot die voorval gelei het, word ondersoek.
Bronne: 7 News, Global News, The New Zealand Herald





