WINDHOEK, NAMIBIË. – Delia Angelique Maasdorp (40), wat sedert Vrydag vermis is, se liggaam is Sondagmiddag in haar sitkamer op Klein Windhoek ontdek.
Haar ouers, wat elders in Namibië woon, kon haar sedert Vrydag nie in die hande kry nie. Sy is as vermis by die polisie aangemeld.
’n Vriend het die polisie na haar Eros-woonstel vergesel waar hulle op haar liggaam, toegedraai in komberse, in haar sitkamer afgekom het. Hulle het toegang deur haar woonstelvensters verkry.
Haar BMW-motor, televisie, skootrekenaar en selfoon was nie by haar woonstel te vind nie.
Volgens Elifas Kuwinga, polisiewoordvoerder, is daar bloedspatsels op haar rusbank gevind.
Delia was voorheen getroud met adv. Ramon Maasdorp. Windhoek Oberserver berig Wentzel Maasdorp is ’n persoon van belang in die polisie-ondersoek. Hy is na bewering verwant aan adv. Maasdorp.
’n Nadoodse ondersoek sal binnekort uitgevoer word om die oorsaak van Delia se dood te bepaal.
Bronne: The Namibian, Windhoek Observer





