KWAZULU-NATAL. – Vier polisievoertuie wat aan Mountain Rise-polisiestasie toegeken is, is Donderdag deur ‘n balju van die hooggeregshof gekonfiskeer. Lede van die polisie se regsdienste is Vrydag hof toe om die verkoop van die polisievoertuie op ‘n veiling te keer.
Kol. Robert Netshinunda sê dit volg nadat ‘n verdagte geëis het hy is na ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer in 2018 onregmatig in hegtenis geneem en aangehou. Slegs een van die voertuie is padwaardig. Regsdienste was verward oor die optrede van die balju terwyl die saak nog nie afgehandel is nie. Die beslaglegging van die polisievoertuie het nie aan die voorskrifte van die wet op staatsaanspreeklikheid voldoen nie. Regsdienste van die polisie sal verseker die wet word wel nagekom.
Netshinunda het die versekering gegee dienslewering aan inwoners in die polisiëringsarea en omliggende gebiede sal ongehinderd voortgaan.
Lt.genl. Mkhwanazi het aan bevelvoerders beklemtoon siviele eise teen die polisie moet verminder en stappe moet teen polisiebeamptes geneem word in geval van eise wat weens nalatigheid en onbetaamlike optrede ingestel word. Bevelvoerders is getaak om planne in plek te stel om staatsgeld te bespaar wat vir litigasie verlore gaan.
Onwettige arrestasie en aanhouding en botsings is die oorsaak van die meeste siviele eise in KwaZulu-Natal, het Mkhwanazi gesê toe hy polisielede toegespreek het.
Netshiunda sê met die geïdentifiseerde teenstrydighede in die uitvoering van die hofbevel is regsdienste vol vertroue dat die voertuie teruggegee sal word en ‘n ander oplossing vir die saak gekry sal word.





