NOORDWES. – Michael Rossouw (27) is Sondagaand deur twee pitbull-terriërs van bure oorkant die pad verskeur toe hy by sy ma se huis in Lichtenburg stop en uit sy voertuig klim.
Rossouw se ma, Ida, en stiefpa, Jorrie Jordaan, is ook deur die honde gebyt toe hulle Michael wou help.
Nadat Rossouw en sy jong gesin in die erf gestop het, wou hy hulle babaseun uit sy motorstoeltjie van die agtersitplek haal. Rossouw se verloofde, Tanya Prinsloo, en babaseun Kian was agter in die voertuig. Die honde het Rossouw van agter af aangeval. Tydens die poging om die honde van sy verloofde en babaseun in die motor weg te hou en te keer dat hulle nie in die motor spring nie, is Rossouw oor sy hele liggaam gebyt en deur die honde aan sy voete weggesleep.
Ida, Rossouw se ma, het probeer help en is ook aan die skouer en bobeen gebyt. Daarna het sy stiefpa, Jorrie Jordaan, ook probeer help en is hy in sy gesig en nek gebyt.
Rossouw, wat nie aan ‘n mediese fonds behoort nie, het dringende befondsing vir rekonstruksie nodig. Lisa van den Heever het ‘n BackaBuddy-profiel geskep om met mediese kostes te help.
Ida Jordaan het gister gesê: “Michael se wonde is vandag skoongemaak. Geen infeksie. Hy sal moet gaan vir ‘n veloorplanting op ‘n latere stadium. Baie dankie vir almal se gebede. Ons waardeer almal baie.”
“Ek is nie iemand wat sommer goed op Facebook sit nie. Maar vandag het ek elkeen wat die post lees se gebed nodig. Ek en my man en my seun wat al ‘n pappa is, is aangeval deur 2 pitbulls in ons erf. My seun is baie baie erg gebyt. Hy het nie ‘n medies vir hom nie. Hy lê op die oomblik in Tsepong met ernstige wonde en erge pyn. Ons moet R11 0000 neersit by Anncron voor hulle ons kan help. Ek lê al die hele nag wakker en ek bid en vertrou op die Here, want wat kan ek anders doen? Ek is baie erg gebyt, so ek het pyn, ek kan nie eers na my kind gaan nie. My man was ook amper dood, hy is in sy gesig gebyt. God is in beheer. Hy weet wat ons nodig het.”
Nuusflits verneem van die polisie daar is nog geen saak na die aanval oopgemaak nie.





