Rassie Erasmus, Springbokafrigter, is tevrede nadat die oefenkamp in Pretoria, waartydens die span vir die openingstoets teen Wallis in Twickenham voorberei het, tot ‘n einde gekom het.
Die wedstryd vind volgende Saterdag plaas.
Erasmus is veral tevede met die nuwe spelers in die groep en die manier hoe die meer ervare spelers hulle onder die vlerk geneem het.
Die DHL Stormers het Woensdag by die oefenkamp aangesluit. Erasmus sê met die balans van jeug en ondervinding in die span kan daar ‘n kwaliteitspan vir die toets teen Wallis gekies word. Hierdie span sal ook ‘n goeie toon skep vir die Castle Lager Incoming-toer wat op 6 Julie teen Ierland in Pretoria afskop.
Met Siya Kolisi wat nie beskikbaar is nie, sal ‘n nuwe kaptein voor die Castle Lager Incoming-toer gekies word.
Erasmus sê die kapteinskap sal uit die ervare spelers, soos Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Bongi Mbonambi vir volgende week gekies kan word. Daarna sal die kaptein vir die seisoen aangewys word.
Die bokbreier het die Vodacom Bulls vir hulle semi-finale wedstryd van die Vodacom United Rugby Championship teen Leinster wat Saterdag plaasvind, sterkte toegewens.
“Die Bulle het hierdie seisoen baie goed vertoon, en ons sal graag wil sien dat hulle hierdie naweek na die einstryd deurdring. Leinster is ’n gehaltespan, so dit gaan ’n strawwe ontmoeting wees, maar dit sal goed wees vir hulle spelers en Suid-Afrikaanse rugby om die Bulle na die eindstryd te sien deurdring, en ons is die naweek ten volle agter hulle.”
Indien die Bulle nie na die finale sou deurdring nie, is die afrigters op bystand om van die spelers in te sluit.
Die span teen Wallis sal Dinsdag aangekondig word en sal Woensdagaand na Londen vertrek.
Bron: SA Rugby





