LIMPOPO. – ‘n Pa (45) wat glo sy stiefdogter (8) verkrag het, is Vrydag deur die polisie in Mahwelereng in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba sê die verdagte het die jong meisie glo in Mei en Junie by hulle huis in Sekgakgapeng, waar sy in sy sorg gelaat was, verkrag. Die ma van die meisie was vir dae weg omdat sy siek gevoel en behandeling ontvang het. Sy het Donderdag teruggekeer, waarna haar dogter haar oor die verkragting ingelig het. Die stiefpa het ook glo gedreig om haar dood te maak, indien sy iemand sou vertel. Tydens ‘n mediese ondersoek by die hospitaal is die vermoede van verkragting bevestig. Die polisie is verwittig en ‘n verkragtingsaak is geopen waarna die verdagte in hegtenis geneem is.
Lt.genl. Thembi Hadebe het die voorval veroordeel en die polisielede vir die spoedige arrestasie geprys.
Die verdagte sal Dinsdag 18 Junie in die Mokerong-landdroshof in Mokopane verskyn.





