Cyril Ramaphosa se inhuldiging as president vir ‘n tweede termyn sal Woensdag om 11:00 by die Uniegebou in Pretoria plaasvind.
Die seremonie sal by die amfiteater op die suidelike grasperk gehou word. Nasionale en buitelandse hooggeplaastes, insluitend staatshoofde en regeringshoofde, sal die inhuldiging bywoon.
Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het Saterdag die aankondiging gemaak. Hy het dit as belangrik beskryf omdat dit die 30 jaar herdenking van vryheid is. Volgens die grondwet moet die gekose president binne vyf dae van ‘n verkiesing ingesweer word.
“Die inhuldiging sal Suid-Afrikaners van alle agtergronde, vlakke van die samelewing en politieke oriëntasies bymekaarbring, verenig in ons diversiteit. Dit bied ons ‘n geleentheid om ons demokratiese waardes en bestuurstelsel te vier, insluitend die ooreengekome verbintenis van ons politieke liggaam dat die sewende administrasie een sal wees wat gelei word deur ‘n regering van nasionale eenheid.”
Die SANW sal seremoniële elemente uitvoer, wat die 21-geweer saluut, ‘n saluutvlug, ‘n inspeksie van ‘n SANW-bataljon, ‘n bataljon-verbymars en verbyvlug, insluit.
Hoofregter Raymond Zondo sal die president insweer. Die president sal ‘n eed of bevestiging soos deur die grondwet bepaal, aflê en ‘n intreerede lewer.
Ntshavheni sê ‘n program van vermaak vir diegene wat die inhuldiging bywoon, sal om 09:00 begin. Dit sal ‘n verskeidenheid musiekgenres en ander kulturele en artistieke optredes insluit wat die prestasies van die afgelope drie dekades sal weerspieël.
Geen privaat voertuie sal by die Uniegebou of sy direkte omgewing toegelaat word nie. Paaie in die omgewing van die Uniegebou sal deur die Tshwane-metropolisie gesluit wees. Iwoners wat geraak word, sal vroegtydig ingelig word oor waarlangs hulle terug na hulle huise sal kan beweeg.
Suid-Afrikaners word aangemoedig om deel van die inhuldiging te wees. Geen alkohol, dwelms, vuurwapens, ander wapens, bottels of blikke word toegelaat nie. Diegene wat nie die verrigtinge self kan bywoon nie, word genooi om dit per televisie of radio te volg.
Veiligheidsplanne deur wetstoepassingsagentskappe vir die inhuldiging is gereed.
Bron: Regeringsnuus





