OOS-KAAP. – Anganam Magxwalisa (3) is glo deur sy ma se kêrel op Vadersdag aan ‘n boom in die Xholora-woonbuurt in Stutterheim opgehang.
Siyanda Magagu het na bewering die kleuter, wat by ‘n 13-jarige familielid was, gevat om te gaan lekkers koop. Magagu het glo sedert die kleuter ‘n baba van twee maande oud was, die rol van vaderfiguur in sy lewe ingeneem. Die kleuter is deur sy ma as vermis aangemeld en dood aangetref. Magagu is deur die polisie in hegtenis geneem.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Siyanda Maguga (35) is Sondag op aanklag van die moord op ‘n 3-jarige seun buite Stutterheim in hegtenis geneem. Hy bly na ‘n eerste hofverskyning in aanhouding.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê na bewering het die beskuldigde Sondagoggend die 3-jarige met geweld in Xholora, buite Stutterheim gevat en weggeneem. Die ma van die seun is dadelik polisie toe, waarna ‘n soektog vir die beskuldigde en die seun geloods is. Na bewering het hy die kind doodgemaak. Hy is later in die area gevind en dadelik in hegtenis geneem.
Maguga het Dinsdag op aanklag van moord in die Stutterheim-landdroshof verskyn. Die saak is vir ‘n formele borgaansoek tot 20 Junie uitgestel terwyl die beskuldigde in aanhouding bly.
Die moordsaak word steeds ondersoek.
Bronne: SAPD, Ian Cameron, Scrolla Africa





