MPUMALANGA. – Xolani Gregory Khoza (38) is Maandag in die Nelspruit-streekshof op R2 000 borg vrygelaat. Hy het op aanklagte van aanhitsing tot terrorisme, openbare geweld en intimidasie in die hof verskyn.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê Khoza moet elke Maandag en Vrydag voor 19:00 by die polisie aanmeld. Die saak is vir verdere ondersoek tot 2 September uitgestel. Khoza het sedert sy inhegtenisneming reeds twee maal in die hof verskyn en was in aanhouding totdat borg aan hom toegestaan is.
Khoza het glo op sosiale media gesê: “The country must be shut down and the president must be removed.” Die “aanhitsing tot openbare geweld” is deur die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad met behulp van misdaadintelligensie ondersoek. Khoza is geïdentifiseer en hy is op aanklag van die kubermisdaadwet in hegtenis geneem.
“Enige persoon wat deur middel van elektroniese kommunikasie of deur ‘n databoodskap ‘n persoon of groep persone of die publiek in die algemeen aanhits met die doel om geweld aan te blaas, sal skuldig wees soos aangekla.”





