GAUTENG. – Die NVG het alle aanklagte van verkragting, poging tot moord en aanranding teen televisie-aanbieder en kletsrymer “Jub Jub,” oftewel Molemo Katlego Maarohanye, teruggetrek.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die dossier is saam met die aanklaer se verslag en aanbeveling oorweeg. Inligting wat deur die verdediging by die direkteur van openbare vervolging ingedien is, is ook in ag geneem.
“Die kantoor van die DOV het tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen redelike vooruitsigte op ‘n suksesvolle vervolging is nie. Gevolglik was die sinvolle ding om te doen om die aanklagte van verkragting, poging tot moord en aanranding teen Maarohanye terug te trek.”
Maarohanye se gewese meisie het in Februarie 2022 ‘n klag van verkragting teen hom aanhangig gemaak. Die beweerde misdade het glo tussen 2006 en 2009 gebeur. Na ‘n sosialemediaplasing het nog drie vroue met soortgelyke beweringe na vore gekom.
‘n Lasbrief is vir Maarohanye se inhegtenisneming uitgereik, waarna hy homself aan owerhede oorhandig en in die Johannesburg-landdroshof verskyn het. Hy is op R10 000 borg vrygelaat.
“Die NVG beskou alle bewerings van seksuele geweld in ‘n ernstige lig en skroom nie om ‘n aggressiewe standpunt daarteen in te neem nie, maar slegs waar daar relevante en toelaatbare bewyse is wat die aanklagte kan ondersteun. Ongelukkig was daar in hierdie geval, na verdere beoordeling van beskikbare bewyse, geen vooruitsigte op ‘n suksesvolle vervolging nie, vandaar die terugtrekking van aanklagte.”





