GAUTENG. – Drie verdagtes verskyn vandag onderskeidelik in die Pretoria-Noord en Temba-landdroshowe op aanklagte van transitoroof, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie en die besit van ‘n gekaapte motorvoertuig.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê die verdagtes, 37, 39 en 69 jaar, is Dinsdag tydens ‘n intelligensiegedrewe multidissiplinêre operasie in verskeie areas in Makapanstad in hegtenis geneem.
‘n Geweer, waarvan die reeksnommer afgevyl is, ‘n wit Peugeot en ‘n silwerkleurige Audi A4, wat glo in misdaad gebruik is, is in die verdagtes se besit gevind.
Mogale sê die geweer sal vir ballistiese toetsing gestuur word, sodat vasgestel kan word of dit in ander misdade wat reeds gepleeg is, gebruik is.
Die verdagtes is vir aangemelde sake in Akasia en Makapanstad gesoek.
“Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek sluit nie die moontlikheid uit dat nog verdagtes in hegtenis geneem kan word nie.”
Mogale sê die ondersoek duur voort.





