KWAZULU-NATAL. – ‘n Man (22) en sy meisie (21) het Donderdag in ‘n park in Tongaat beserings opgedoen, nadat hulle glo deur ‘n bejaarde man aangerand is toe hulle gesoen het.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het die bejaarde man ontsteld geraak toe hy die paartjie sien soen. Hy het die jong man gekonfronteer en gevra hoekom hy sy meisie in die openbaar soen. Dit het tot ‘n argument gelei, waarna die bejaarde die jong man met ‘n vuis geslaan het. Toe die meisie probeer ingryp, het hy haar ook geklap. Die jong man is daarna weer geslaan en het ‘n oop wond aan sy gesig opgedoen.
Die twee kinders wat saam met die bejaarde man was, het tydens die aanval begin huil, waarna die ouer man met hulle weggestap het.
“Hy is gesien toe hy in ‘n rooi VW Golf wat langs die pad geparkeer was, wegry. Die registrasienommer is nie aangeteken nie. Geen strafregtelike saak van aanranding is onmiddellik geregistreer nie.”





