Luister hier na die lied.
Dodo Nyoka het vanoggend sy nuwe enkelsnit, Dancin’ In The Stars, vrygestel. Die inspirasie vir die liedjie het op ’n onverwagse manier ontstaan. Sonder dat Nyoka dit besef het, het hy sy kitaarspeler se eksmeisie en hul herinneringe beskryf.
Die liedjie is ’n mengsel van country, African en Afrikaanse popmusiek. Die lied het reeds groot belangstelling op sosiale media ontlok nadat Nyoka ’n voorsmakie in Julie op TikTok geplaas het.
Fanie Nel, woordvoerder van die Coleske Group, sê die voorskou het reeds meer as 800 000 kyke gekry, met amper 60 000 “likes” en oor die 2 000 kommentare.
Nyoka sê hy het een oggend wakker geword, terwyl sy kitaarspeler ’n melodie in die ateljee speel. Hy het gestaan en luister en volgens Nyoka het die woorde vir die melodie net gekom. Die kitaarspeler was geskok, omdat dit sy gewese verhouding beskryf het.
“Ek hou baie van countrymusiek, en ek wou nog altyd ’n countryliedjie uitreik. Ek het nooit gedink mense sou daarin belangstel nie, totdat ek ’n gedeelte van die liedjie, net vir die lekkerte, op TikTok geplaas het,” verduidelik Nyoko.
Inspirasie vir die liedjie was onverwags en gaan oor ‘n verhouding waarin aan die wêreld ontsnap kan word. “Dis oor twee mense wat saam dans sonder om om te gee wie kyk of wat in die buitewêreld gebeur… wanneer hulle saam is, verlaat hulle hierdie wêreld.”
Die musiekvideo vir die lied sal binnekort by The Almond Tree Children’s Village in Benoni opgeneem word. Dit sal die storie uitbeeld van ’n meisie wat hoop verloor het, maar dan deur ’n cowboy na ’n spesiale plek geneem word waar sy besef dat daar meer is as net die gejaagde lewe.
Nel sê Nyoka betree met hierdie eerste Engelse uitreiking ‘n nuwe genre.
“Ek dink mense gaan dit geniet omdat dit ’n vars klank is. Ek wil hê mense moet nostalgies voel na hierdie een. Dit herinner ons daaraan om nooit op te gee op daardie ‘fairytale’ tipe liefde nie, want ware liefde bestaan nog.”
Nyoka se ander treffers sluit Foto’s, Country Girl van Bloem en Frikkie vir ‘n Rukkie in.
Kry die liedjie hier.