Soldaat en makker vir gewapende roof van rylopers gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – Siphelo Mzamane (28), ‘n voormalige wapenoperateur van die SANW wat op Upington gestasioneer was, en Nkosikhona Apols (36), sy makker, is onderskeidelik vir roof met verswarende omstandighede, die besit van ammunisie en die besit van ‘n semi-outomatiese geweer gevonnis.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê die Springbok-streekhof op Garies het Mzamane tot 20 jaar en Apols tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Nkosinathi Apols, wat ‘n eerste beskuldigde in die saak is, is van alle aanklagte vrygespreek.

Mzamane is skuldig bevind op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en afsonderlik vir die besit van ammunisie en ‘n vuurwapen. Apols is skuldig bevind op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede

Op 17 Maart 2019 was Mzamane en die Apols-broers op die N7 van Kaapstad na Upington onderweg. Justin Wildschut en Jandré Cupido, wat geryloop het, is ‘n geleentheid na Springbok aangebied. Tydens die rit het die beskuldigdes drank aan die rylopers gegee, waarna Mzamane Cupido met ‘n vuurwapen van besittings, onder andere klere en gereedskap, beroof is. Wildschut is van ‘n selfoon en kontant beroof en uit die voertuig gedwing.

“Albei slagoffers is aangesê om te hardloop, waarna die beskuldigdes weggery het.”

Die slagoffers het ‘n verbygaande polisievoertuig voorgekeer, waarna die polisie die beskuldigdes agternagesit het. ‘n Hoëspoedjaagtog het gevolg waartydens die polisie probeer het om die bande van die beskuldigdes se voertuig stukkend te skiet. Die beskuldigdes is gearresteer. ‘n Vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgevyl is en tydens die misdaad gebruik is, is later versteek langs die N14 gevind.

“Wildschut en Cupido se getuienis is aangehoor, wat die sleutel was om die vuurwapen wat in die rooftog gebruik is, te identifiseer. Basil Kock, die streekhofaanklaer, het forensiese bewyse gelewer wat die vuurwapen met die magasyn wat in die beskuldigde se voertuig gevind is, verbind. Die hof het bevind die verdediging het versuim om wesenlike en dwingende omstandighede aan te bied, wat die afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnisse vir die aanklagte van roof en die besit van ‘n onwettige vuurwapen sou regverdig.”

Nkosinathi Appols, wat samewerking aan die polisie gegee het, is vrygespreek nadat die hof bevind het hy was onbewus van die rooftog.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief