KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou is Maandagoggend in Cardhamrylaan in Phoenix doodgeskiet. Familie van die oorledene het gevra die publiek moenie foto’s en video’s van haar liggaam op sosiale media deel nie.
KZNVIP Protection Services sê die versoek is gemaak om die kinders in ag te neem, aangesien die familie getraumatiseer is. Die diens sê die vrou is in ‘n beweerde gewapende roof doodgeskiet. Met nuus van die skietinsident is daar na die toneel gehaas en mediese ondersteuning gevra.
“Met die aankoms van KZNVIP Medics is ‘n vroulike slagoffer gevind waar sy sonder om reaksie te toon in die pad gelê het. Ongelukkig kon niks deur medici gedoen word om die vrou se lewe te red nie en sy is op die toneel dood verklaar.”
Die vrou het glo vir haar geleentheid om werk toe te gaan buite die huis gewag. Na bewering het twee mans met ‘n silwerkleurige voertuig haar geskiet, voordat hulle met haar besittings gevlug het.
“Die toneel is deur KNVIP afgesper en aan die SAPD oorhandig. Omstandighede wat tot die voorval gelei het, kan nie in hierdie stadium, hangende die SAPD se ondersoek, bevestig word nie. Die slagoffers se kinders bly hoogs getraumatiseerd ná die voorval.”
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.





