GAUTENG. – Onthantile Sebati (22) was ‘n tiener tydens die misdaad wat deur haar beplan en haar familielede geëis het. Sy is saam met Tumelo Mokone (25) en Kagiso Mokone (25) deur die Pretoria-hooggeregshof op verskeie aanklagte skuldig bevind en gevonnis.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Sebati is tot 25 jaar direkte tronkstraf vir vier moorde elk, 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar vir diefstal, vyf jaar vir die besit van ‘n vuurwapen en addisioneel vyf jaar vir die besit van ammunisie, ingevolge die Kindergeregtigheidswet, gevonnis. Sebati se vonnis is tot 16 Desember 2021, die datum van haar arrestasie, terugdateer.
Tumelo Mokone (25) en Kagiso Mokone (25) is tot vier keer lewenslank elk vir vier aanklagte van moord, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar elk vir diefstal, vyf jaar elk vir die besit van ‘n vuurwapen en ‘n addisionele vyf jaar elk vir die besit van ammunisie gevonnis.
Nuusflits het voorheen berig Sebati het op 6 Desember 2016 gemaak of sy na buite gaan om water uit te gooi, maar het inderwaarheid die hek van haar ouerhuis in Mmakau, Noordwes, vir haar neefs, Tumelo Mokone en Kagiso Mokone, oopgemaak om haar gesin dood te maak. Sebati se pa (42), haar ma (40), swanger suster (19) en broer (6) het die noodlottige aand gesterf. Solomon Lucky Sebati, wat ‘n polisiekonstabel was, Mmatshepo, ‘n verpleegster by ‘n ouetehuis , Tshegofatso wat ongeveer agt maande swanger was en die minderjarige Quinton, is met die pa se polisiedienswapen doodgeskiet.
Volgens Mahanjana het die twee Mokone’s vroeër op die betrokke dag na die huis van Sebati gegaan en haar pa se vuurwapen gesteel, waarna hulle die aand teruggekeer het om die moorde te voltrek.
Sebati het haar pa se geparkeerde motor se sleutel aan die Mokone’s oorhandig toe hulle opdaag. Tumelo is die huis in om die gesin uit te wis. Die Mokone’s het met die oorledene se voertuig van die moordhuis weggery net om ‘n paar meter verder in modder vas te sit, waar besluit is om die voertuig agter te laat.
Op 17 Desember het Sepati haarself aan die polisie oorgegee en ‘n verklaring vir erkenning afgelê, waarna die Mokone’s die volgende dag in hegtenis geneem is. Hulle het ook bekentenisverklarings afgelê, maar het tydens die verhoor onskuldig gepleit.
‘n Verhoor binne ‘n verhoor het plaasgevind omdat die Mokone’s die bekentenisse betwis, maar ‘n regter het beslis die bekentenisse is wel toelaatbaar.
Daar is aan die hof bewys Sepati het die moord op haar familie gereël en het R50 000 aan elk van die Mokone’s betaal. Kagiso Mokone is ook deur middel van vingerafdrukke aan die voertuig verbind. Die drie beskuldigdes is op al die aanklagtes skuldig bevind.
“Die regter het beslis alle vonnisse vir die drie individue sal gelyktydig uitgedien word. Hulle is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. ’n Bevel vir die deursoeking en beslaglegging is op hulle persele toegestaan.”





