GAUTENG. – Louis Liebenberg en sy vrou Dezzi is Dinsdagaand kort voor 20:00 in ‘n restaurant by die Benoni Country Club aan die Oos-Rand in hegtenis geneem. Mike Bolhuis van Specialised Security Services en die polisie het die arrestasies bevestig.
Kol. Philani Nkwalase van die Valke sê agt persone is op beweringe van ‘n diamant-belegging-bedrogspul in hegtenis geneem. Die verdagtes is tydens ‘n operasie wat deur die Noord-Kaap se georganiseerde misdaadondersoekeenheid gelei is, vasgetrek.
“Die operasie, wat gisteraand uitgevoer is, het na verdagtes in Gauteng en Noordwes gelei. Die verdagtes sluit ‘n egpaar in, waarvan die man na bewering saam met sy vrou die meesterbrein agter die bedrogspul is.”
Nkwalase sê diamantbeleggers is glo sedert 2019 uit meer as R4 bn. bedrieg. Meer arrestasies word verwag en die verdagtes sal na verwagting Donderdag op onder meer aanklagte van bedrog, geldwassery, diefstal en rampokkery in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.
Mike Bolhuis het die owerhede, veral die Valke en die gespesialiseerde eenhede van die polisie wat saam met likwidateurs, SAID en die Specialised Security Services-taakspan werk, geprys. Hy het ook ‘n streng waarskuwing gerig aan diegene met inligting aangaande die Liebenberg-transaksies om na vore te kom en hulle volle samewerking aan die owerhede te gee. Voorts is fluitjieblasers wat na vore gekom het vir hulle dapperheid geprys. Hy vra diegene wat nog nie kriminele sake geopen het nie, om dit te doen. Bolhuis waarsku dat die vervolgingsfase van hierdie saak ‘n lang proses sal wees en betrokkenes word gevra om geduld aan die dag te lê, aangesien geregtigheid uiteindelik sal seëvier.
Die ondersoek duur voort.





