MPUMALANGA. – ‘n Leeumannetjie wat vir dae lank opgemerk en gesoek was in die Mbombela-area is Saterdagoggend omstreeks 02:00 gevang.
Volgens die Mpumalanga Tourism and Parks Agency is die leeumannetjie by Sekelbos-landgoed in Mbombela gevang. Sapphire Blue Drones en Wildlife Events is vir ondersteuning in die suksesvolle aankeer van die leeu bedank.
Nuusflits het berig ‘n waarskuwing is aan die inwoners van Mbombela (Nelspruit) en Barberton in die Laeveld van Mpumalanga gerig, nadat die loslopende leeu sedert Maandag opgemerk is.
CCTV-beeldmateriaal het bevestig die leeu is by The Rest in Mbombela by ‘n ingang van ‘n landgoed opgemerk. Inwoners, veral dié langs die R40, waar die groot kat opgemerk is, is gewaarsku om op hulle hoede te wees, want die leeu beweeg in areas soos Glenwood, Hermansburg en Hilltop.
Die leeu is Maandagaand naby Hermansburg opgemerk. Dinsdagoggend is vars spore by die ingang van die Glenwood-area gekry.
‘n Soektog na die leeu is deur ‘n vastevlerkvliegtuig van ‘n lid van die publiek en ‘n hommeltuig van die Mpumalanga Tourism and Parks Agency ondersteun.





