MPUMALANGA. – Die polisie en korrektiewe dienste is op soek na ‘n verdagte, op parool, nadat lede van die polisie glo Sondagoggend vroeg in Malelane aangeval is.
Brig. Donald Mdhluli sê daar sal nie gerus word voordat die verdagte in hegtenis geneem is. Hulp van die gemeenskap word gevra om die verdagte van die beweerde rooftog op te spoor. Die polisie is oortuig Donald Sipho Khoza, wat onlangs vir moord en roof op parool vrygelaat is, kan van hulp wees in die ondersoek na die roof waartydens ‘n polisiedienswapen en ammunisie geroof is.
Khoza, wat as gewapen en gevaarlik beskou word, bevind homself moontlik in die gebied van Mhlatikop, Malelane-gholfklub, Impala, langs die N4 in Nkomazi of in die omgewing van Matsulu, Kanyamazane, Komatipoort, Orlando, Naas, Tonga, Kamhlushwa of Matsamo. Die publiek word aangeraai om hom nie te nader nie.
“Ons kan nie ons arms vou en mense toelaat om die gesag van die staat te ondermyn of ons lede aan te val nie. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat hierdie verdagte vinnig voor die hof gebring word,” het genl. Zeph Mkhwanazi, die provinsiale kommissaris gesê.





