NOORD-KAAP. – Kapt. Joanita Becker, ‘n vastevlerkvlieënier van die polisie en ook ‘n geregistreerde slangvanger in en om Kimberley, het Sondag ‘n pofadder en Kaapse kobra by Belmont-polisiestasie gevang.
Lt. kol. Sergio Kock sê Becker het as gevolg van haar liefde om mense veilig te hou haar ook as ‘n slangvanger bekwaam. Becker het nie gehuiwer om dadelik te reageer toe sy verneem daar is ‘n giftige Kaapse kobra in die kliëntedienssentrum (KDS) gesien nie.
Met aankoms by die polisiestasie het sy eers ‘n pofadder net buite die KDS gevang en daarna binne 20 minute die kobra in ‘n liasseerkabinet opgespoor.
Kock sê Becker het die slange veilig in ‘n natuurlike omgewing binne 2 en 10 km van waar hulle gevang is, losgelaat. Becker het tussen 2019 en 2022 haar slangvangerskursusse deur die African Snake Bite Institute tot op vlak 2 voltooi. Nie net het sy die betrokke kursusse voltooi nie, sy kan ook eerstehulp aan slangbytslagoffers gee.
Kock waarsku wanneer slange gewaar word, moet dit nie genader word nie. Vries en kyk wat die slang doen, voordat stadig agteruit beweeg word. Bel daarna die plaaslike Wildlife Snake Rescue Institute. Wanneer ‘n slang jou wel pik, moet teengif onmiddellik toegedien. Soek onmiddellike mediese behandeling indien enige pyn, swelling, duiseligheid of asemnood ervaar word.
Lt. genl. Koliswa Otola, die provinsiale kommissaris, het Becker geprys vir die ekstra myl wat sy loop om die veiligheid van die gemeenskap en polisielede te verseker.
Die Gifinligtinghulplyn kan by 0861 555 777 gebel word en Kock waarsku om vinnig op te tree, aangesien elke sekonde ‘n lewe kan red.





