MPUMALANGA. – Alle dienste van die grensbestuursowerheid en die inkomstediens van Suid-Afrika (SAID) is tydelik by die Oshoek-grenspos opgeskort, nadat ‘n 32-ton steenkoolvragmotor Sondag in 15 voertuie en strukture ingeploeg het.
Dr. Michael Masiapato, die kommissaris van die grensbestuursowerheid (BMA), en die SAID het die insident en tydelike opskorting van dienste bevestig. Die opskorting is sodat die polisie hulle ondersoek kan voltooi, wat die insameling van bewyse, asook die neem van foto’s van die ongelukstoneel behels.
Rampbestuurspanne sal die veiligheidsassesserings doen om die veiligheid van alle rolspelers met die heropening van die grenspos in ag te neem.
Die Oshoek-grenspos is tussen Suid-Afrika en Eswatini. Na bewering het die vragmotor beheer verloor en die kettingbotsing met 10 stilstaande privaat voertuie, vier voertuie van die SAID en een van die SANW veroorsaak. Drie persone is beseer.
Motoriste word versoek om die grenspos te vermy en eerder die Nerston-, Mahamba-, Jeppes Reef- of Lebombo-grensposte gebruik.








