Twee broers borg geweier na plaasaanval

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Thobani Myendeki (37) en Andile Welcome Myendeni (46), twee broers, wat teregstaan op verskeie aanklagte betreffende ‘n plaasaanval, se borg is deur die hof geweier nadat Graham (77) en Anne Stanton (71) op 23 Desember 2024 op ‘n plaas in Wingston, naby Chintsa, aangeval is.

Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê op die betrokke dag het drie vermomde verdagtes gewapen met ‘n pistool, ‘n mes, ‘n boutsnyer en ‘n breekyster eers vir Brayden Combrink (23), ‘n plaaswerker, en Marilize Combrink, (51) sy ma, beroof. Tydens die roof het een van die aanvallers glo ‘n mes teen Marilize se been gedruk in ‘n poging om haar seksueel aan te rand. Hy is egter deur die ander aanvallers onderbreek. Daarna is die verdagtes na die hoofhuis van die Stantons waar hulle na bewering geld en kluissleutels geëis het. Die verdagtes het met goedere van ongeveer R250 000 van die toneel gevlug. Dit sluit ou munte, bankkaarte, ‘n televisie, ‘n geweer, ammunisie, selfone, ‘n jagmes, ‘n baadjie en ‘n motor in.

Na die aanval het die bejaarde egpaar se dogter die verdagtes se ligging deur haar selfoon na haar ma se selfoon opgespoor. Die polisie en Groen Skerpioene-gemeenskapsforum het die twee broers gearresteer, terwyl nog ‘n verdagte op vrye voet is. Thobani is in die been geskiet. Die gesteelde goedere is opgespoor.

Die verdagtes staan op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ‘n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie, poging tot moord en poging tot seksuele aanranding tereg.

Tyali sê die verdagte broers se vanne verskil vanweë ‘n fout deur Binnelandse Sake. Die saak is tot 5 Maart uitgestel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief