LIMPOPO. – ‘n Man en sy verloofde is in Januarie 2024, terwyl hulle op pad was, van ‘n groot som geld beroof wat volgens voorafooreenkoms uit ‘n bank op Groblersdal onttrek is.
Lt.kol. Stephen Thakeng sê die paar het op die betrokke dag ná die onttrekking ‘n spoedhobbel in Sephaku-woonbuurt genader, toe twee vermomde verdagtes in ‘n oënskynlike lokval te voorskyn gekom, skote afgevuur en die man in sy heup en regterbeen getref het. Die verdagtes het glo die geld geëis en te voet van die toneel gevlug. Die man se verloofde was ongeskaad.
Na meer as ‘n jaar het die polisie Vrydagaand inligting ontvang, waarna die gesoekte verdagte (34) uiteindelik in Hlgotlou gearresteer is. Hy is in besit van ‘n ongelisensieeerde vuurwapen en ammunisie aangetref. Hy het Maandag op aanklagte van sameswering om roof te pleeg, roof met ‘n vuurwapen, poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in die Nebo-landdroshof voorgekom.
Thakeng sê met die deurbraak wat gemaak is, word daar nou gefokus om die oorblywende verdagte vas te trek. Enigiemand met relevante inligting van die verdagte word gevra om na vore te kom.





