GAUTENG. – Die departement van onderwys in die provinsie (GDO) het verskeie probleme wat by Laer- en Hoërskool Theresa Park, Laerskool Zuurbekom, en onderwysprobleme in Randburg, in ‘n verklaring aangespreek.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê aansoeke vir water-, elektrisiteits- en sanitasiedienste by Laer- en Hoërskool Theresa Park in die noorde van Pretoria is steeds hangende weens hersoneringsprosesse deur die Stad Tshwane. Tussentydse voorsiening sluit boorgate, kragopwekkers, sonpanele, spoelbare mobiele toilette en drinkfonteine in. Terwyl die laerskool se dienste stabiel is, het die hoërskool tegniese probleme met elektrisiteit ervaar. Die GDO het beskermende heinings om pompe en kragopwekkers geïnstalleer, personeel oor bedryfstelsels heringelig en opgraderings aan toerusting begin.
Laerskool Zuurbekom is in ‘n gekombineerde skool omskep om hoërskoolleerlinge te akkommodeer. Die skool bied tans onderrig van gr. R tot gr.10. Gr. 11 sal in 2026 bygevoeg word, met bykomende klaskamers om die uitbreiding te ondersteun.
In Randburg bevestig die departement – oor onderwysbehoeftes wat daar ontstaan het – dit het geen rekord van die verkoop van Nealeweg 3 in Northcliff, Randburg, nie. Hierdie eiendom val onder die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling (GDID). Alhoewel die terrein vir ’n skool oorweeg is, is dit bevind dat die ligging en grootte nie geskik is vir ’n volskaalse skool nie, maar moontlik vir ’n vroeëkinderontwikkelingsentrum. Die departement erken dat skole in noordelike Randburg weens nuwe residensiële ontwikkelinge druk ervaar, maar geen nuwe skole is sedert 2015 daar gebou of in die volgende dekade beplan nie. Belegging word eerder in vinnig-groeiende gebiede verder noord gefokus. Die GDE het beklemtoon dat dit verbind bly tot deursigtigheid, aanspreeklikheid, leerders se veiligheid en billike toegang tot gehalteonderwys en infrastruktuur.






One Response
https://farmaciabesurica.com/# Scegli Farmacia