OOS-KAAP. – ‘n Man (72) is op 12 Augustus dood aangetref waar hy van die dak van sy huis gehang het. ‘n Verdagte (52) van Dokotela, Libode, wat die oorledene se chauffeur was, is Vrydag deur die polisie in hegtenis geneem. Hy sal vandag (Maandag) op ‘n aanklag van moord in die Libode-landdroshof verskyn.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê die verdagte en sy medebeskuldigde het na bewering die bejaarde vermoor en daarna opgehang om dit soos selfdood te laat lyk. ’n Voorlopige ondersoek het egter aan die lig gebring dat die oorledene eers met ’n tou verwurg is voor hy opgehang is. Die beweerde motief was die roof van geld wat die verdagtes geweet het in die huis se kluis gehou is.
Die verdagte se vermeende medepligtige is steeds voortvlugtig, maar die polisie is besig met pogings om hom vas te trek.
“Dit was ’n goed beplande moord en die polisie sal die saak uitpluis sodat die oortreders verantwoordelik gehou kan word vir so ’n onmenslike daad. Geregtigheid moet vir die 72-jarige geskied,” sê maj.genl. Norman Modishana, provinsiale polisiekommissaris.





