MPUMALANGA. – Die polisie het bevestig dat vier van sy beamptes, drie mans en ‘n vrou, van verskeie eenhede in Limpopo, en ’n burgerlike in hegtenis geneem is. Die inhegtenisname hou met ’n huisroof in Lydenburg (Mashishing) verband.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê ‘n groep gewapende verdagtes het glo Donderdagaand omstreeks 23:50 ‘n huis van Ethiopiese burgers binnegedring. Die polisie het vinnig op ‘n noodoproep reageer, waartydens die verdagtes kort ná middernag in hegtenis geneem is. Die verdagtes het glo ‘n grys Toyota dubbelkajuitbakkie met Limpopo-registrasienommerplate, ‘n ongemerkte privaat voertuig en ’n gemerkte polisie VW Golf GTI, wat aan die Polokwane-blitspatrollie behoort, vir die misdaad gebruik. Daar is in ‘n privaat voertuig, vermoedelik ’n Suzuki of Avanza, met onwettige sigarette en geld gevlug.
Verdere ondersoeke het tot die ontdekking van onwettige sigarette ter waarde van sowat R1,5 miljoen, asook R950 000 kontant gelei. Terwyl die plaaslike kriminele rekordsentrum die misdaadtoneel vir leidrade fynkam, is nog geld in ‘n koeëlvaste baadjie aangetref en nog drie vuurwapens in die gemerkte polisievoertuig. Die nommerplate van die voertuie was glo met swart kleeflint verander om uitkenning te bemoeilik. Ammunisie is ook op die toneel gevind en daar is op twee polisiedienswapens wat in die verdagtes se besit was, beslag gelê.
Die verdagtes sal Maandag op ‘n aanklag van huisroof in die Mashishing-landdroshof verskyn. Mdhluli sê meer aanklagte kan nie uitgesluit word nie.





