WES-KAAP. – ‘n Seun (10) van Gugulethu is Donderdagmiddag by Rocklands Beach in Seepunt uit die see gered, nadat hy onverwags deur ’n brander van die rotse gevee is. Danksy vinnige optrede deur omstanders, insluitend plaaslike branderplankryers, is die kind se lewe gered.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê Tafelbaai- en Bakoven-spanne is omstreeks 16:50 ontbied, nadat ooggetuies KPR op die seun probeer toepas het. Die NSRI se noodsentrum het die Kaapstadse waterreddingsnetwerk geaktiveer. Met aankoms het die brandweer bevestig dat paramedici reeds met KPR besig was. Die seun was by sy bewussyn, maar het met asemhaling gesukkel. Hy is op die toneel gestabiliseer en daarna in ’n ernstige maar stabiele toestand per ambulans na ‘n hospitaal geneem, waar hy tans herstel.
Volgens inligting was die kind saam met sy 13-jarige broer op die rotse terwyl hul pa naby was. Tydens die springgety het ’n brander hom onverwags van die rotse afgeslaan. ’n Onbekende man het onmiddellik die water ingegaan om te probeer help. ’n Groep plaaslike branderplankryers en ander omstanders op die promenade het die voorval gesien. Devon Coombe (21), een van die branderplankryers, het opgemerk dat die onbekende man in die branders probeer om die kind se kop bo water te hou. Coombe het met sy branderplank die water ingegaan en kon die seun op sy plank help en na die strand roei, waar omstanders met noodhulp begin het.
Die NSRI het die onbekende man, Coombe, en al die omstanders wat gehelp het, geprys vir hul vinnige en dapper optrede. Die NSRI het die publiek daaraan herinner om altyd waaksaam te wees tydens hoë getye en om nooit die krag van die see te onderskat nie.





