MPUMALANGA. – ’n Soektog is van stapel gestuur nadat ses verdagtes Saterdag in die vroeë oggendure uit die aanhoudingselle van die Lydenburg-polisiekantoor ontsnap het. Een is egter weer in hegtenis geneem.
Kapt. Mpho Nonyane-Mpe sê in ‘n verklaring die ontsnapping is 03:30 tydens ‘n roetine-inspeksie ontdek toe beamptes ’n lekkende waterpyp buite een van die selle opgemerk het. Met verdere ondersoek is ’n gat in die selmuur gevind, asook strukturele skade, waarna bevestig is dat ses verdagtes ontsnap het.
Fana Fenyane, Isaac Malope, Sergio Mandoza (Mosambiekse burger), Francisco Vasco Maganja (Mosambiekse burger) en France Malatjie word steeds gesoek. Clayton Frank wat ook ontsnap het, is ná ‘n wenk omstreeks 04:00 naby ‘n sportgrond in Kellisville aangekeer. Hy verskyn vandag op ‘n aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding in die Mashishing-landdroshof.
Die verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem op aanklagte wat moord, verkragting, besit van ’n onwettige vuurwapen en opsetlike saakbeskadiging insluit. ‘n Soektog is deur die polisie begin om hulle op te spoor en weer in hegtenis te neem.
Die polisie doen ’n beroep dat die oorblywende verdagtes opgespoor word. Enigiemand met relevante inligting word gevra om 076 060 0273 te bel.

Foto: Clayton Frank





