WES-KAAP. – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het bevestig dat Iran deelneem aan die Will For Peace 2026-oefening met twee skepe, Jamaran en Mahdavi, ’n ontwikkeling wat regskundige, diplomatieke en strategiese kommer ontlok het.
Jamaran behoort aan Iran se gewone vloot, terwyl Mahdavi aan die Islamitic Revolutionary Guard Corps (IRGC) – ‘n militêre groep wat protesoptogte in Iran gewelddadig onderdruk – behoort. Luidens ‘n verklaring van Chis Hattingh van die DA “neem die teenwoordigheid van ’n IRGC-skip hierdie maritieme oefening van omstrede samewerking met ’n gesanksioneerde staat na direkte betrokkenheid by ’n aangewese revolusionêre militêre organisasie,” wat die risiko’s vir Suid-Afrika verhoog. Dit sluit reputasieskade, blootstelling aan sekondêre sanksies en moontlike skade aan internasionale vennootskappe in. Die DA het die minister van verdediging versoek om te verduidelik watter regskundige, diplomatieke en risiko-analises die besluit ondersteun het.
Luidens ‘n verklaring van die SANW het die Will For Peace 2026-oefening amptelik op 10 Januarie in Simonstad met ’n openingsparade begin. Vlootkontingente van China, Rusland, Iran en Suid-Afrika neem deel, met China as die leidende nasie. Kapt. Ndwakhulu Thamaha, die gesamentlike taakmagbevelvoerder van die oefening, het gesê die aktiwiteite demonstreer ’n gedeelde toewyding aan maritieme veiligheid en veilige skeepsverkeer, en versterk samewerking en vertroue tussen deelnemende magte. Die SANW het benadruk dat die oefening samewerkende maritieme operasies en professionele ontwikkeling binne Suid-Afrika se territoriale waters versterk.





