GAUTENG. – Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Donderdag bewerings van waninligting veroordeel, nadat die Stad Tshwane elektrisiteit by die departement se hoofkantoorgebou afgesny en dit met beweerde wanbetaling verbind het. Die DKD het die Stad Tshwane versoek om sy optrede te herevalueer en om verskoning aan te bied vir die skade wat volgens die departement aangerig is.
Luidens ‘n verklaring van die DKD het die burgemeester van Tshwane vals bewerings versprei, ten spyte daarvan dat die Stad bewus is dat die DKD nie die eienaar van die gebou is nie, maar ’n huurder. Voorts word gesê die DKD het sy kontraktuele verpligtinge nagekom en munisipale rekeninge is deur die verhuurder vereffen, wat volgens die departement met bewys van betaling gestaaf kan word. Die departement voer aan dat die afskakel ongeregverdig was en die departement se naam onregmatig met wanbetaling verbind het, wat reputasieskade veroorsaak het en onnodige veiligheidsrisiko’s geskep het, gegewe die DKD se grondwetlike mandaat.
“Die besluit om elektrisiteit te ontkoppel en die departement met bewerings van nie-betaling te assosieer, is onregverdig en onverdedigbaar,” sê die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo.
The Department of Correctional Services Building, managed by Delta Property Fund Limited, owes the City of Tshwane R2.5 million. We’ve disconnected electricity at this property in the Pretoria CBD. #TshwaneYaTima @CityTshwane @maluksa pic.twitter.com/nNr57PUtWa
— Dr Nasiphi Moya (@nasiphim) January 15, 2026






