OOS-KAAP. – Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Donderdag bevestig dat ’n ondersoek aan die gang is na die dood van ’n 19-jarige man wat glo dood aangetref is nadat hy deur die polisie in hegtenis geneem is.
Volgens ‘n verklaring deur Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder, is Kuhle Zindlu op 22 November 2025 deur die polisie in Upper Qweqwe, Mthatha, in hegtenis geneem. Hy is later dood naby die veiligheidskamer by Mthatha Sentraal-polisiekantoor aangetref.
Shuping sê afskrifte van die saakdossier is Donderdag ontvang. “Die direktoraat het die saak geregistreer as ’n dood-in-polisie-aanhouding en doen tans ’n voorlopige ondersoek.”





