WES-KAAP. – ’n Man (47) is Sondagoggend beseer nadat sy voertuig ongeveer 100 meter van Chapmanspiek-rylaan teen ’n krans af gestort en op rotse langs die kus tot stilstand gekom het.
Luidens ‘n verklaring van NSRI-woordvoerder, Craig Lambinon, sê Spencer Oldham, Houtbaai NSRI-stasiebevelvoerder, reddingspanne is omstreeks 08:30 ontbied, nadat berigte ontvang is dat ’n voertuig die pad verlaat het en moontlik in die see beland het. Met aankoms op die toneel is die motor op rotse aan die Noordhoek-kant gevind. Drie NSRI-reddingswemmers het na die voertuig geswem en die beseerde man vasgekeer in die motor aangetref, waarna noodmediese sorg toegepas is.
Twee weldoeners wat glo teen die krans af geklim het om ondersoek in te stel, was ook op die toneel. Die pad is tydelik gesluit terwyl ’n reddingsoperasie met behulp van ’n EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter uitgevoer is. Die man is uit die voertuig bevry, per helikopter na ’n landingsone in Noordhoek geneem en daarna per ambulans na ’n hospitaal vervoer. Hy was in ’n stabiele toestand.
Die oorsaak van die ongeluk word deur die polisie ondersoek. Een van die weldoeners het teruggeklim na die padoppervlak en is vir geringe beserings behandel. Die ander weldoener, ‘n fietsryer, is deur ‘n helikopter na die padoppervlak geneem.





