Showmax se toekoms is onseker nadat die Franse uitsaaireus Canal+ in September beheer oorgeneem het van MultiChoice, Afrika se grootste betaal-TV-verskaffer en aangekondig het dat die stromingsdiens gestaak word.
Volgens Business Day sê die groep hy kan nie langer die groot beleggings dra wat met Showmax gepaard gaan nie. Volgens ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is, is die besluit deur Showmax se direksie geneem as deel van MultiChoice se fokus op finansiële dissipline en beter benutting van beleggings in ’n toenemend mededingende en kapitaalintensiewe wêreldwye stromingsmark.
Canal+ het daarmee een van sy eerste groot besluite as nuwe eienaar van MultiChoice geneem deur die stromingsdiens te staak wat jaarliks beduidende verliese gely het.
Die besluit volg op ’n “omvattende” hersiening van Showmax, wat bekend geword het vir oorspronklike reekse soos Spinners, Catch Me a Killer en Khaki Fever.
Bronne: Deadline, Business Day





