INTERNASIONAAL – Iran se nuwe opperleier, Mojtaba Khamenei, het Donderdag gesê die sluiting van die Straat van Hormoes moet voortgaan as ’n “instrument om druk op die vyand te plaas”.
Dit is sy eerste openbare verklaring sedert hy onlangs as Iran se opperleier aangestel is.
Volgens CNBC het Khamenei in kommentaar deur Reuters vertaal, ook gesê alle Amerikaanse militêre basisse in die Midde-Ooste moet onmiddellik gesluit word en gewaarsku dat “daardie basisse aangeval sal word”.
Die sluiting van die seestraat het reeds ’n groot impak op wêreldenergiemarkte. Die Straat van Hormoes verbind die Persiese Golf met die Golf van Oman en is die belangrikste roete waardeur olie- en gasprodusente in die Golf toegang tot die oop see kry.
Ná die sluiting het die prys van Brent-ru-olie tot meer as $100 per vat gestyg.
Die seestraat lê binne die territoriale waters van Iran en Oman. Iran het intussen verklaar dat die roete onder sy beheer is en dat skepe wat met die VSA en Israel verbind word, verbied is om daar deur te vaar. Ander vaartuie moet vooraf toestemming van Iran kry om die seestraat te gebruik.
Bronne: CNBC, Al Jazeera





