OOS-KAAP. – Asiphe Yawu, Abraham Gobozi, Kwanele Mzala, Siphelele Mkhulisi, Thabo Nana, Siphelele Nondolo, Anele Ludidi en Sinethemba Mazendala het Saterdag uit die Afsondering-polisiekantoor se aanhoudingselle ontsnap. Siphelele Mkhulisi is reeds weer in hegtenis geneem. Hulle was vir onder meer moord, verkragting, aanranding en crimen injuria in aanhouding.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê ‘n multi-dissiplinêre taakspan het reeds vir Siphelele Mkhulisi, wat vir moord in aanhouding was, Dinsdagoggend omstreeks 08:00 by sy tannie se huis in Matatiele in hegtenis geneem. Die omstandighede van die ontsnapping, asook moontlike medepligtigheid, word ondersoek. Die res van die sewe vlugtige gevangenes word steeds gesoek.
Die polisie waarsku die publiek om nie self te probeer om die ontsnaptes aan te hou nie, aangesien hulle gevaarlik is. Enigeen met relevante inligting oor waar die verdagtes hulle bevind, word gevra om sers. Matabane by 076 342 4033 of konst. Mantelefu by 073 109 7962 te bel.





