WES-KAAP. – ’n Student van Stellenbosch Universiteit is Maandag ná bykans 24 uur veilig gered langs die Elandspadrivier in Du Toitskloof, waar hy deur skielike vloedwater vasgekeer was.
Volgens David Nel, woordvoerder van Wilderness Search and Rescue (WSAR), het vier jong stappers Sondag op ‘n staptog besluit om weens slegte weer terug te draai. By die rivier gekom, het swaar reën die water vinnig laat styg en dit in ’n gevaarlike stroom verander. Drie van die groep het daarin geslaag om oor te steek, maar ‘n vierde was aan die oorkant vasgekeer. Sy vriende het beweeg om selfoonsein te kan kry en het hulp ontbied. Reddingspanne van WSAR, CapeNature en die polisie is ontbied en het uitdagende toestande aangetref, met dele van die roete wat onder water was. Omdat dit te gevaarlik was om die rivier oor te steek, het redders besluit om te wag vir die watervlak om te daal. ’n Klein span het oornag by die rivier gebly en die student dopgehou.
Maandagoggend is ’n tou oor die rivier gegooi en noodsaaklike items soos warm klere, kos en ’n radio is na hom gestuur sodat daar beter kommunikasie kon wees. “Die oomblik toe ons voorrade en kommunikasie by hom kry, het die situasie aansienlik verbeter,” het Nel gesê. Met beter toestande is die student veilig per helikopter uit die gebied gehys en na ’n landingsplek vervoer, waarna hy per ambulans hospitaal toe geneem is. Die operasie was teen die middag suksesvol afgehandel. Die student is later uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.
Mountain Club of SA Search And Rescue waarsku weer dat riviere baie vinnig gevaarlik kan word ná reën en dat stappers nooit vloedwater moet probeer oorsteek nie.
Die reddingstog is deur Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape, nooddienste, Cape Nature veldwagters, SAPD se soek-en-reddingsdienste, MSAR, Delta Search & Rescue, HAMNET, High Angle Rescue & Access, K9 Search and Rescue Association of South Africa, Mountain Club of SA – Search And Rescue, Off-Road Rescue Unit – ORRU, SARZA – Western Cape, The Hikers Network en Trail SAR aangepak. Du Kloof Lodge is ook vir hulle ondersteuning tydens die operasie bedank.






