Só lees voormalige vroedvrou se vonnis

Lees ook :

Foto: NVG

GAUTENG. – Yolande Maritz Fouchee (48) is deur die Pretoria-hooggeregshof tot 23 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die hof het bevind die voormalige vroedvrou van You and Me Midwife-led Maternity Care in Murrayfield het swanger vroue en hul pasgebore babas in gevaar gestel.

Regter Papi Mosopa het haar op verskeie aanklagte skuldig bevind en die volgende vonnisse opgelê:

  • Vyf jaar gevangenisstraf op ses aanklagte van aanranding
  • Vyf-en-twintig jaar gevangenisstraf op elke aanklag van aanranding met ‘n regsplig
  • Agt jaar direkte gevangenisstraf vir die strafbare manslag van die nege dae oue Noah von Kloeg
  • Twee jaar direkte gevangenisstraf vir bedrog
  • Twaalf maande direkte gevangenisstraf vir die indiensneming van ‘n ongekwalifiseerde persoon

Verskeie vonnisse loop gelyktydig, wat neerkom op 23 jaar direkte gevanggenisstraf. Volgens Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, het die skuldige tussen 2019 en 2020 by haar praktyk swanger pasiënte se komplikasies geïgnoreer en hulle nie na spesialiste verwys nie. Sy het ook die stimulerende middels, Cytotec en Oksitosien, sonder hul medewete in pasiënte se drinkwater gemeng om bevallings te versnel. Op 3 April 2019 is een vrou se bevalling op hierdie wyse hanteer. Haar seuntjie, Noah von Kloëg, het nege dae later gesterf. Ander kinders ly steeds aan gesondheidskomplikasies as gevolg van Fouchee se optrede.

In 2020 is Fouchee by die Suid-Afrikaanse verpleegraad aangemeld en kriminele sake is by Silverton-polisiekantoor geopen. Sy is eers op 24 Junie 2024 in hegtenis geneem. Sy het tydens die verhoor skuld ontken, maar die staatsaanklaer, adv. Jennifer Cronjé, het Fouchee se dogter, deskundiges van Steve Biko Akademiese Hospitaal, prof. Priya Soma-Pillay en prof. Izelle Smuts as getuies geroep en sewe slagofferimpakverklarings ingedien wat die emosionele, finansiële en persoonlike verwoesting wat Fouchee se optrede veroorsaak het, beskryf het.

Die verdediging het vir Fouchee op gronde van ‘n eerste oortreder en die feit dat sy sonder werk is, korrektiewe toesig as straf voorgestel. Cronjé het egter geargumenteer dat Fouchee geen berou getoon of verantwoordelikheid vir haar dade gewys het nie. Die staat het verder te kenne gegee dat sy vir Noah van ‘n lewe ontsê het en lewenslange skade by ander kinders veroorsaak het.

Regter Papi Masopa het met die staat saamgestem. Die hof het beklemtoon dat Fouchee die grondwetlike reg op lewe van haar pasiënte en hul kinders geskend het en dat niemand verhewe is bo die wet nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief