MPUMALANGA. – Die polisie het ‘n soektog van stapel gestuur na drie onbekende verdagtes, wat vermoedelik by ‘n gewapende aanval op twee veiligheidswagte op ‘n plaas naby Komatipoort betrokke was. Een van die wagte het skietwonde aan sy kop opgedoen.
Kapt. Mpho Nonyane-Mpe, polisiewoordvoerder, sê die twee veiligheidswagte het Sondag omstreeks 16:00 vir diens aangemeld en was later die aand besig met ‘n roetinepatrollie toe een van hulle ‘n skoot gehoor het. Toe een ondersoek instel, het hy drie onbekende mans in die omgewing opgemerk. Hy het uit vrees vir sy veiligheid geskuil en nadat hy voetstappe hoor naderkom het, oor ‘n heining gespring en weggekruip.
Daarna het hy sy veiligheidsmaatskappy ontbied om hom by te staan. Met hul aankoms sowat ‘n halfuur later het hulle tekens gevolg wat hulle na die tweede veiligheidswag gelei het. Hy is met skietwonde aan die kop aangetref en is deur nooddienste na ‘n plaaslike hospitaal vervoer, waar hy steeds behandeling ontvang.
Volgens die polisie het die verdagtes met aluminium-sleepligte van die plaas gevlug. Die motief vir die aanval is nog onbekend en vorm deel van die ondersoek. Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagtes op te spoor, word gevra om AO Vincent Mashaba by 082 449 0272 te bel.





