GAUTENG. – Altesaam 217 verdagtes, waarvan die meerderheid onwettige immigrante, is Dinsdag tydens Operasie Prosper by die Losberg Kloof-goudmyn in Westonaria in hegtenis geneem.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, sê die operasie is deur die polisie met ondersteuning van die weermag, Sibanye Protection Services en Fidelity Specialised Services gelei. Volgens Sibeko is die meerderheid van die verdagtes onwettige immigrante van Mosambiek, Zimbabwe en Lesotho wat met onwettige mynbou verbind word. Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van ammunisie en die hulpverlening aan onwettige immigrante.
Die polisie het op toerusting wat vir onwettige mynbou gebruik word, asook voedsel en alkohol, beslag gelê. ‘n 9 mm-pistool, twee magasyne en 118 rondtes AK-47-ammunisie is ook tydens die operasie in beslag geneem.








