Ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers en redakteur van Die Boodskapper se boek getiteld Gee julle vir hulle iets om te eet het onlangs verskyn. Dit beslaan 119 bladsye. Hier is net enkele hoofstuktitels: Sendingwerk; Koninklike rentmeesters; Die gelowige se prioriteitslys; Loofwaardige aanbidding; Erfsonde en evolusie; Die huwelik: ‘n skans teen onkuisheid; Skepper én Onderhouer.
Ds. Strauss het ingestem om die volgende vrae te beantwoord:
Som jou boek in een paragraaf op.
Dit is ʼn hulpbron vir ampsdraers. Dit bevat 30 konsepte wat ampsdraers bemagtig om huisbesoek sinvol te behartig en Skrifbegronde antwoorde op aktuele vrae te gee. Agterin is ʼn Skrifindeks aan die hand van bepaalde onderwerpe wat die amsdraer of voorganger kan help as hy dalk tydens ʼn huisbesoek oor ʼn onderwerp gekonfronteer word waarvoor hy nie noodwendig voorbereid was nie. Hierdie publikasie kan ook sinvol vir Bybelstudie en huisgodsdiens benut word. Ek raak aktuele temas aan en gee praktiese leiding en voorstelle vir gebed.
Waarom het jy dié spesifieke boek geskryf?
Ek wou ampsdraers bemagtig om huisbesoek met groter vrymoedigheid aan te pak. Die doel is om hulle meer selfvertroue te gee en toe te rus om diepgaande geestelike gesprekke oor aktuele sake te voer.
Vertel meer oor jou skryfproses.
Ek het al baie dagstukkies/oordenkings vir verskeie publikasies geskryf en besluit om dit te herbenut en as basis vir elke konsep te gebruik. Ek het besluit op ʼn basiese struktuur vir elke konsep, wat ʼn duidelike doelwitstelling insluit, voorbereiding vanuit die belydenisskrifte, Skriflesing, aktuele vrae, bespreking van die teks en wenke vir ʼn gebed.
Hoeveel boeke het jy al geskryf?
Hoewel ek al medeskrywer was in ʼn hele klomp publikasies, is hierdie my eerste volledige publikasie (buiten natuurlik die skripsies en verhandeling wat ek vir my studies moes voltooi).
Enige wenke vir voornemende skrywers?
Begin net. Beplan goed. Wees doelgerig, maar wees ook geduldig met jouself en met die proses. Kos wat ʼn bietjie geprut het, smaak altyd beter!
Bestel jou kopie van Gee julle vir hulle iets om te eet hier.
Lees Louise Viljoen se onderhoud met Heléne de Clercq oor Emmerskoplys hier.





