WES-KAAP. – Die DA steun die Stad Kaapstad se besluit om ’n interregeringsdispuut met Firoz Cachalia, die waarnemende minister van polisie, te verklaar oor die uitbreiding van misdaad-ondersoekbevoegdhede van Metro-polisiebeamptes.
George Michalakis, DA- parlementêre leier, sê die party ondersteun die Stad se poging om die polisiewet te wysig sodat metropolisielede nie net op misdaad kan reageer nie, maar dit ook kan ondersoek. Volgens die DA sal dit die metropolisie in staat stel om nouer met die polisie saam te werk in die ondersoek van onder meer georganiseerde misdaad, sindikate en bendegeweld.
Metropolisiebeamptes moet tans bewyse, verdagtes en ondersoeke aan die polisie oorhandig. Volgens die DA lei minder as 10% van sake in sekere misdaadkategorieë uiteindelik tot suksesvolle vervolging. Die interregeringsdispuut lei nou tot ’n verpligte bemiddelingsproses. Dit bied Cachalia die geleentheid om sy voorgestelde wysigingswetsontwerp aan te pas en die metropolisie se ondersoekbevoegdhede uit te brei, aldus die DA.
Die party sê hy sal enige wetswysiging steun wat metropolisie in staat stel om misdaad te ondersoek en glo die proses kan moontlik ’n hofgeding voorkom.





