GAUTENG. – ’n 8-jarige seun is Maandagaand dood nadat hy op die N14 noordwaarts, net voor die Jeanlaan-afrit in Centurion, deur ’n voertuig getref is.
Community Emergency Response Team South Africa (CERT-SA) sê die Centurion-span is omstreeks 19:20 na die toneel ontbied. Die seun was saam met sy voog besig om die pad oor te steek toe hy deur die voertuig getref is. Hy het noodlottige beserings opgedoen en is ondanks die pogings van nooddienste op die toneel dood verklaar.
Die voertuig wat by die botsing betrokke was, het glo onmiddellik ná die voorval van die toneel weggejaag. Die polisie het ’n ondersoek van stapel gestuur.
Enigiemand wat die voorval gesien het of oor inligting beskik wat die ondersoek kan help, word versoek om die polisie te kontak.





