WES-KAAP. – Bewerings van korrupsie by die Knysna-munisipaliteit is na die Valke vir ondersoek verwys. Dit is Dinsdag tydens ’n voorlegging deur die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering aan die provinsiale parlement se staande komitee bekend gemaak.
Dave Bryant, DA-LPW en woordvoerder oor plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die bewerings van finansiële wangedrag betrek openbare verteenwoordigers en munisipale amptenare. Knysna bly ook onder ’n artikel 139-ingryping. Volgens die departement is twee dissiplinêre sake teen senior bestuur tussen Januarie en Junie vanjaar aangeteken, onder meer teen die munisipale bestuurder en die direkteur van korporatiewe dienste.
Die departement het verder gesê die munisipaliteit het ’n finansiële hoof aangestel wat voorheen weens finansiële wangedrag by ’n Oos-Kaapse munisipaliteit ontslaan is, ondanks inligting dat die raad daarvan bewus was.
Die DA verwelkom die verwysing na die Valke, maar sê aanspreeklikheid moet volg. ’n Beroep word gedoen vir ’n meer deursigtige en verantwoordbare munisipale bestuur wat op dienslewering aan Knysna se inwoners fokus.





