GAUTENG. – ‘n Man (52) is gewond nadat vier verdagtes glo Maandagaand omstreeks 19:30 op ‘n kleinhoewe op die Soutpanpad in Onderstepoort, Pretoria ingebreek het.
Kapt. Johan van Dyk sê die verdagtes, wat klapmusse gedra het, het ‘n 42-jarige inwoner se kamer binnegedring. Een van die verdagtes was gewapen met ’n handwapen, terwyl die ander drie messe gehad het. Die inwoner is met die elektriese koord van ’n selfoonlaaier vasgebind, waarna die verdagtes geld geëis en die kamer deursoek het. Hulle het ses selfone en ’n onbekende bedrag kontant gebuit voordat hulle na twee ander kamers beweeg het.
Een van die ander inwoners, die 52-jarige, het na bewering nie aan die verdagtes se eise gehoor gegee nie. Hy is gevolglik in die maag geskiet en ook met ’n mes gesteek. Hy is per ambulans na die George Mukhari-hospitaal vervoer.
Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof en poging tot moord. Die verdagtes is steeds op vrye voet en die ondersoek duur voort.





